Jy sou dink Paulus was te geestelik volwasse om neerslagtig te wees. Klaarblyklik nie! Die hoofapostel en leier van die kerk het ontmoediging, stres, rusteloosheid en selfs vrees ervaar. "Toe ons in Masedonië aangekom het, kon ons geen rus vind nie. Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen: van buite - aanvalle; van binne - vrese." (2 Kor. 7:5 NLV). Vervolgens word 'n paar maniere genoem waarop God vir ons troos en bemoediging stuur:
1) Hy bemoedig ons deur Sy teenwoordigheid. "Mag... God ons Vader - Hý wat ons liefgehad het en wat ons deur Sy genade 'n ewige troos en 'n goeie vooruitsig gegee het - mag Hy self julle harte vertroos en julle sterk maak in elke goeie daad en woord." (2 Tess 2:16-17 NLV). Dit is God se aard om met ons te wees, ons te troos wanneer ons treur (Matt 5:4), wanneer ons gebroke is (Ps 147:3), wanneer ons bedruk is (Ps 145:14), wanneer ons bekommerd is (Jes. 41:10) of wanneer ons siek is (Ps 41:3). 2) Hy troos ons deur Sy Woord. "Onthou die beloftes aan U dienaar, want U het my laat hoop. U belofte laat my weer lewe, dit vertroos my in al my ellende." (Ps 119:49-50 NLV). 3) Hy troos ons deur ons gebede. "Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee." (Ps 138:3 NV). 4) Hy troos ons deur gelowige vriende. Paulus skryf: "...God... het ons... opgebeur deur die koms van Titus..." (2 Kor. 7:6 NV). Kyk uit vir diegene wat troos bring en oefen om ander te troos. Sielskos: 1 Tim 4-6; Luk 9:37-45; Ps 42:1-5; Spr. 19:12-14 Moet nooit God as vanselfsprekend aanvaar nie. Moenie te vertroud raak met geestelike dinge nie. Simson het en duur daarvoor betaal. Nadat Delila die geheim van sy krag ontdek het, het sy 'vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep, en hy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn. Toe sy sê: "Die Filistyne is hier, Simson!" het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk. Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie Die Filistyne het hom gegryp...' (Rigters 16:19-21 NV). Dis 'n tragiese verhaal. Simson is gebore om Israel na oorwinning te lei. In plaas daarvan het hy toegegee aan kleinlike begeertes, met die vyand geheul en gedink hy kon daarmee wegkom. Luister wat hy sê: 'Ek sal weer uitstap soos die vorige kere...' Maar dit was een keer te veel. Sy ongehoorsaamheid het hom nie voorheen van sy krag ontneem nie, maar wel die keer. Hy het 'n grens oorgesteek en sy sig verloor, sy krag, sy vryheid, sy geloofwaardigheid, en sy diensbaarheid. Uiteindelik is hy as gevangene van die Filistyne dood. Jy mag dink: 'Deesdae se toewyding is effe kras.' Nee, dit is beskermend! Die Bybel sê: '[Wie] die Here respekteer en dien, begin...wysheid kry...' (Spreuke 9:10 BVA). As jy aanhou om ongehoorsaam te wees oor wat God jou aangesê het om te doen en dink jy kan die gevolge ontkom, stuur jy op moeilikheid af. Bekeer jou, maak reg met God en kom terug op die pad terwyl jy nog kan.
Sielskos: Eseg 10-13; Lukas 1:67-80; Ps 139:13-24; Spr 13:25 Voordat Jesus hierdie wêreld verlaat het, het Hy sy dissipels eenkant geneem om hulle voor te berei vir die probleme wat hulle sou hê sodra Hy weg is: 'Ek is die wingerdstok, julle die lote...sonder My kan julle niks doen nie...Ek het julle uitgekies...om... vrugte te dra, vrugte wat sal hou' (vv. 5 & 16 NV). Jesus leer ons hier twee belangrike dinge: 1) Jy vind slegs uit wie jy is in 'n verhouding met Christus. 'Sonder My kan julle niks doen nie.' As jy dit vergeet, probeer jy uiteindelik dinge te doen wat slegs God kan doen, soos om jou probleme op joU manier op te los of jouself deur slim planne voorop te stel. Jy word nie in enige van jou ondernemings geseën deur jou eie prestasie nie, maar jy word geseën as gevolg van jou verbintenis met Christus. Tensy jy dit verstaan, mors jy jou tyd om agter mense aan te handloop wat niks meer mag het as jy nie. Jou krag en sukses lê in Christus, die Wingerstok. Hou dus daaraan vas! 2) Voordat jy vrugte kry wat hou, verloor jy die vrugte wat tydelik is. 'Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af' (v. 2 NV). Jy kan dalk 'n goeie loot wees wat aan die wingerdstok vas is, en goeie vrugte dra, maar skielik begin God sekere dinge in jou lewe afsny. Dinge wat volgens jou altyd daar sou wees, word weggeneem; en nou voel dit asof jy agteruit boer. Dit verg geloof om te weet dat God sal toelaat dat jy verloor waarop jy trots is en waarop jy jou sekerheid gebou het, om jou iets beters te gee - vrugte wat hou, langdurige sukses. Daarom, hoe moeilik dit ookal mag wees, laat dit gaan. God het vir jou iets beter in gedagte.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Lukas 1:26-38; Ps 73:17-28; Spr 13:20 Jesus was die perfekte mentor. Hy het aan Sy dissipels gesê: "Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen..." As jy die volheid van jou Godgegewe potensiaal wil bereik, vra God vir die regte mentors. Jy sal altyd verder kom met 'n goeie mentor wat jou leiding gee en aanmoedig. Sommige mentors word vir 'n kort seisoen gegee; ander vir 'n leeftyd, so jy moet die
verskil ken. Hoe herken jy 'n mentor? Op agt maniere. Die credo van die ware mentor is: 1) Ek is bereid om die nodige tyd te spandeer om 'n noue verhouding met die leerder te bou. 2) Ek glo in die potensiaal van die leerder, en vertel haar van die opwindende toekoms wat ek vir haar sien; ek visualiseer en verwoord die moontlikhede van haar lewe. 3) Ek is bereid om kwesbaar en deursigtig te wees voor die leerder. Ek is bereid om nie net my sterkpunte en suksesse te deel nie, maar ook my swakhede, mislukkings, gebrokenheid en sondes. 4) Ek is bereid om eerlik maar opbouend te wees as ek die leerder se foute en areas van onvolwassenheid konfronteer. 5) Ek sal by die leerder staan deur beproewings - selfs beproewings wat self weens onkunde of foute veroorsaak word. 6) Ek sal die leerder help om doelwitte vir haar geestelike lewe, loopbaan, of bediening te stel, en die leerder help droom. 7) Ek is bereid om die leerder se vordering met haar doelwit te evalueer. 8) Bo alles, sal ek alles wat ek haar leer getrou uitleef. Sielskos: Eseg. 1-4; Matt 21:1-11; Ps 119:161-168; Spr.19:3-8 Wat is "die skaduwee van die Almagtige"? In die woestyn, waar Israel vir veertig jaar rondgedwaal het, kon temperature tot tussen 49 en 55 grade Celsius styg. Daar was geen skaduwee nie, behalwe dit wat verskaf is deur die tente waarin die mense geleef het. Hulle het dus die kragtige metafoor, "in die skaduwee van die Almagtige", verstaan. As jy in die woestyn verdwaal het, moes die kinders van Israel volgens die wet van gasvryheid vir jou kos en water gee, beskerm teen die vyand en skaduwee teen die versengende son gee. Dit het so gewerk: Eerstens moes jy die Opperherder se naam uitvind. Dan moes jy die koord van sy tent vashou en om hulp roep. As jy dit gedoen het, het die wet van gasvryheid hom verplig om jou in die veiligheid van sy tent in te neem. Dieselfde wet het ook gesê dat hy jou met sy eie lewe moes beskerm. God se naam, El Shaddai, beskryf twee wonderlike aspekte van Sy karakter. "El" dui op Sy mag en krag. "Shaddai" beteken letterlik "die een met die sterk bors", wat verwys na die teerheid van 'n borsvoedende ma. Sommige dae moet jy na God gaan vir die krag wat nodig is om die vyand se aanval te weerstaan; ander dae is dit net nodig om na Hom toe te gaan dat Hy jou in Sy arms kan hou en vertroos. As dinge te "warm" word vir jou, hardloop na "die skaduwee van die Almagtige".
Sielskos: Eseg. 5-9; Matt 21:12-17; Ps 119:169-176; Spr. 19:9-10 Jesus het gesê: "Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word." Pyn is die prys wat ons vir liefde betaal. 'n Outeur het geskryf: "As ons baie seer het, wonder ons: 'Hoekom het dit gebeur? Was dit om die wat moet aangaan se geloof te versterk?' Dis moeilik om 'ja' te antwoord as alles donker lyk. Die belangrikste ding vir ons op daardie oomblik is om nie die pyn te voel nie, maar as ons deur die pyn in ons lewens beweeg eerder as om dit te probeer vermy, sal ons anders daaroor voel. Ons leer daaruit. Net soos Josef, kan ons sien hoe God dit vir 'n groter doel gebruik. Op die ou einde beteken die rouproses dat ons die seer hanteer saam met die enigste Een wat ons kan genees." Die Bybel sê: "...ons het deur die nag gehuil. Maar vanmôre lag ons van vreugde." (Psalm 30:6 DB). Jou oggend sal kom; God het dit belowe! Jou pyn sal beter word met verloop van tyd. Jy sal ook nie vergeet nie; jy sal net anders onthou - met meer dankbaarheid en minder pyn. Hierdie saligspreking beantwoord twee vrae: 1) Wat gebeur met hulle wat in God sterf? "... In die huis van my Vader is daar baie woonplek... Ek gaan om vir julle plek gereed te maak... sodat julle ook kan wees waar Ek is." (Joh. 14:1-3 NV). 2) Wat van die van ons wat moet aangaan met die lewe? "... die God wat in elke omstandigheid moed gee... bemoedig... ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig..." (2 Kor. 1:3-4 NV).
Sielskos: 1 Tess 1-5; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr. 1:1-4 In ons harde wêreld word sagmoedigheid dikwels vir swakheid aangesien. Maar Jesus se definisie van sagmoedigheid is die van 'n kragtige, groot hings wat ingebreek is. Hy het nie sy stamina verloor nie. Waar hy eers 'n sterk wil van sy eie gehad het, gee hy nou net toe aan iemand anders se wil. Sagmoedigheid behels die volgende: 1) Sensitiwiteit vir God. In 'n goeie huwelik verstaan twee mense dikwels mekaar se behoeftes sonder om 'n woord te sê. Die tyd wat hulle saam deurgebring het, maak hulle bewus van die dinge wat die ander een verryk, asook aanstoot gee, en hul toewyding aan mekaar maak hul huwelik hul belangrikste prioriteit. Dit is dieselfde met jou verhouding met God. 2) Gee oor aan God se wil. Die sleutel tot die verbreking van hardnekkige gewoontes is om dit nie in jou eie krag te doen nie. Dit hou net jou fokus op die probleem en versterk die krag daarvan. Die sleutel tot oorwinning is om jou fokus te verander en jou probleme en bekommernisse oomblik vir oomblik oor te gee aan God. "Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God..." (2 Korintiërs 3:5 NV). 3) Oorgawe aan God se doelwitte. Om te verstaan wat die verskil tussen oorgawe en selfsug is, moet jy hieroor nadink: "Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan." (Esegiël 33:31 NLV). Dink 'n bietjie daaroor. Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr. 1:5-9 Hierdie saligspreking korrigeer twee foute wat ons oor verlossing maak. Dat dit net daaroor gaan om te glo, en dat dit net gaan oor ons optrede. Dit gaan eintlik oor al twee hierdie aspekte. Die hergeboorte behels die volgende: 1) 'n Posisie van verlossing. As jy al jou goeie werke opmekaar stapel tot dit so hoog soos 'n berg is, sal jy steeds nie kan betaal om in die hemel in te gaan nie. Dis waar vir die tyd voor jy 'n Christen was en ook nadat jy een geword het. As jy die fliek The passion of the Christ gesien het en gedink het: "Hoekom moes Hy so 'n dood sterwe?", lê die antwoord hierin: "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees." (2 Korintiërs 5:21 NV). Die oomblik as jy Jesus as jou Verlosser aanvaar, sien God jou as 'n 'verloste'. 2) 'n Toestand van verlossing. Verlossing is nie net 'n posisie wat jy voor God het nie, maar 'n toestand wat jy elke dag voor ander uitleef. Hoe doen jy dit? Deur God meer te vertrou as jouself (Spreuke 3:5) en deur te probeer om die karaktereienskappe van Christus te toon: "... liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing." (Galasiërs 5:22-23 NV). Jy sê: "Maar dis te veel! "Ja, maar ons hoef dit nie alleen reg te kry nie: "Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word... Dit doen die Here wat die Gees is." (2 Korintiërs 3:18 NV). Sielskos: Lev 1-4; Matt 4:12-25; Ps 10:1-11; Spr. 1:10-16 Daar word 'n storie vertel oor twee ouens wat oor godsdiens gestry het. Een van hulle het uiteindelik geskreeu: "Nou maar dien jy dan God op jou manier en dan dien ek Hom op Sy manier!" As ons, ons menings 'n voorvereiste maak om mekaar lief te hê, word ons uiteindelik vervreem van mekaar. Die meeste van die goed waaroor ons baklei, maak nie regtig saak nie. Jesus het gesê: "As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." (Johannes 13:35 NV). Dis nie genoeg om van vrede te hou nie; jy moet 'n vredemaker wees. Toe daar 'n stryery in die Nuwe-Testamentiese kerk uitgebreek het oor die eet van sekere kos, het Paulus tussenbeide getree: "Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek... dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou - vir hom is dit dan onrein. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie... Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee... Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder... Laat jou oortuiging hieroor 'n saak tussen jou en God wees..."(Romeine 14:13-22 NV). Gaan wees 'n vredemaker! Sielskos: Lev 8-10; Matt 5:13-26; Ps 42:1-5; Spr. 1:20-23 Selfvertroue (1)
Moet nooit deurmekaar raak met bevoegdheid en selfvertroue nie. Die een is gebaseer op jou vaardighede en die ander een kom van die wete van wie jy in Christus is: "... dat [jy] in Hom is." (1 Joh 2:5 NV). 'n Skrywer sê: "Die eerste ding wat ek oor selfvertroue geleer het, is dat ek dit nie gehad het nie... Ek het 'n dun lagie arrogansie bo-oor 'n kern van vrees gehad. Al die jare van wêreldse sukses het my doodbang vir mislukking gemaak. Wêreldse sukses vereis dat jy risiko's neem buite die gemaksones van vorige prestasies. Geestelike sukses vereis dat jy vergeet van die uitkomste en God toelaat om namens jou te werk... die valse selfvertroue wat ek gehad het, was gebaseer op my eie vermoëns... As jy egter skielik 'n knop in jou bors voel, of jou man sê hy het jou nooit liefgehad nie, of jy word afgedank, of jou kind is ernstig siek, sal geen taktiek of vaardigheid wat jy aangeleer het jou help nie... Die Bybel sê: '... jy [moet] jouself nugter... beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het...' (Rom 12:3 NV). As jy jou selfvertroue van die Here af kry, kan omstandighede jou nie laat wankel nie." Jy sal bekwaamheid, vrede, tevredenheid en standvastigheid uitstraal. "Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het." (Rom. 12:6 NV). As jy jou gawe gebruik om God te vereer, doen jy wat Hy van jou verwag. Sielekos: 2 Tim 1-4; Luk 22:54-62; Ps 19; Spr 24:19-22 Selfvertroue (2) Dis onmoontlik om selfversekerd te wees as jy vir jouself sê dat jy niks gaan bereik nie. 'n Pastoor het in 'n preek gesê: "Nadat Adam en Eva van die verbode vrugte geëet het, het hulle weggekruip. God het na hulle toe gekom en gesê: 'Waar is julle?' Hulle het geantwoord: 'Ons kruip weg want ons is kaal.' Ek hou van die manier waarop God geantwoord het: 'Wie het vir julle gesê dat julle sonder klere is?' Met ander woorde: 'Wie het julle gesê dat daar iets fout is met julle?' God het dadelik geweet dat die vyand met hulle gepraat het. God sê vandag vir jou: 'Wie sê vir jou dat jy nie aantreklik genoeg is om 'n suksesvolle verhouding te hê nie? Of talentvol genoeg is om te floreer in jou beroep nie? Of dat jou huwelik nie gaan hou nie?' Dis alles die vyand se leuens. '[God] weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.' (Ps 84:12 NV). Jy hét potensiaal, en dit verander nie net omdat jy dit nie glo nie. 'As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk ... het, trek Hy dit nooit weer terug nie.' (Rom 11:29 NV). Die Here sal nooit die potensiaal terugvat wat Hy vir jou gegee het nie. Hy sal ook nie sê: 'Jy het te veel kere al misluk en foute gemaak. Gee terug My gawes.' Nee... Sy roeping vir jou lewe sal met jou wees tot jy die aarde verlaat, maar dis ons keuse om dit te gebruik." "Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug." (Jak 4:7 NV). Sielekos: Sag 1-4; Luk 22:63-71; Ps 3; Spr 24:23-25 Rick Hamlin vertel van 'n onlangse gesprek wat hy gehad het: 'Iemand net soos ek het gesê: "Ek's bang om werk toe te gaan. Die afleggings is teneerdrukkend. Ek dink paI dis volgende keer my beurt. Ek het baie om te doen, en my kliënte waardeer wat ek doen, maar ek begin twyfel en dit hou nie op nie." Twyfel is die ergste van alles, en die stories betrek meer vriende, vriende van vriende, mense van die kerk, bure. 'n Vroeë aftrede hier, 'n aflegging daar, 'n skeidingspakket, die statistieke kry gesigte en die vretende angs maak elke dag erger.' Dis moontlik dat jy self oomblikke van mismoedigheid ervaar - daaglikse steke van frustrasie wat jou uitput en van vreugde ontneem. Satan is soos 'n terroris wat in guerrilla-oorlogvoering spesialiseer. Hy besef hy sal teen die magte van die hemel verloor, daarom takel hy individuele gelowiges. Die kwessie is, hoe bly jy standhou as 'wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem word?' Een ding is seker, Jesaja sê: 'U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar...' (Jesaja 26:3 OV). As Moses gefikseer was op sy omstandigheide, sou hy allermins vrede kon hê waar hy tussen die Rooi See en die Egiptenare gestaan het. Sy vrede het gekom uit die wete dat hy was waar God hom wou hê. Vrede op sigself is nie die doel nie; vrede is 'n by-produk van weet: 'Hoe groot is U goedheid: dit is altyd daar vir die wat U dien, U bewys dit voor die oë van die mense aan die wat by U skuil' (Psalm 31:20 NV). Sielskos: 2 Kron 5-7; Luk 19:28-40; Ps 103:13-22; Spr 19:17 Eendag het Jesus in 'n Samaritaanse dorpie ingegaan en Hy is nie goed ontvang nie. "En toe Sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer... Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red." (Luk 9:54 - 56 OV). Watter soort gees is hier aan die werk? 'n Veroordelende gees. 'n Opname deur die Barna-navorsingsgroep wys dat die meeste niegelowiges vandag dink Christene is te veroordelend. Jy kan dus opreg wees, maar die wêreld sal dit sien as te streng. Dit was nog nooit belangriker om die waarheid van God se Woord te ken en daarvoor te staan nie. Maar as jy die regte leerstelling en die verkeerde gees het, sal jy meer mense wegdryf van Christus af as wat jy na Hom toe sal trek. Dink net - Christus se dissipels wou die mense wat nie met hulle saamgestem het nie, laat doodbrand! Hulle was nie eers bewus van die gees aan die werk in hulle harte nie. "... Jesus het gesê: '... jy moet jou naaste liefhê soos jouself.'" (Matt 19:18 - 19 NV). Dit sluit jou nie-Christelike naaste in. Jy hoef Jesus nie te verdedig of te "verkoop" nie. Jy hoef Hom net bekend te stel. Die Psalmskrywer sê: "Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!" (Ps 34:9 NV).
Sielekos: Jes 58-62; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 29:4-6 Geestelike oorlogvoering (Deel1)
Wanneer 'n aanval in Bybelse tye op 'n stad geloods is, was dit die gebruik om 'n stormram te gebruik, die hekke te vernietig en die inwoners te verslaan. Vandag is jy in 'n oorlog gewikkel met satan! Oorwinning is slegs moontlik as jy dít erken. Die goeie nuus is: "Die wapens van ons stryd... [kan] vestings... vernietig." "Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee..." (Ef 6:11 NV). Dis nie iets wat jy aantrek wanneer jy lus kry nie. Satan wil hê jy moet dink hy is gelyk aan God. Hy is nie! God is almagtig, alwetend en alomteenwoordig; Hy kan enigiets doen, op enige plek en op enige tyd. Satan is wel 'n gedugte teenstander, maar dit wat hy toegelaat word om te doen is beperk (Job 1:12). Jou gedagtes is die beheerkamer; dít is waar oorwinning of nederlaag bepaal word. Paulus het vir die Korintiërs gesê: "Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word..." (2 Kor 11:3 NV). Satan weet Christus se terugkeer is om die draai en hy is besig om die opposisie te versterk (Opb 12:12). 'n Mens wen die stryd deur:
Sielekos: Rom 7:1 - 9:16; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22 Geestelike oorlogvoering (Deel 2) Toe die eerste vliegtuig die Wêreldhandelsentrum in September 2001 getref het, het ons gedink dit was 'n ongeluk. Toe nog 'n vliegtuig tref, het ons geweet New York word aangeval. Dr Robert Jeffress sê: "Dis uiters belangrik om te weet wat die oorsprong van die probleem is... 'n navigasiefout vra 'n sekere reaksie. 'n Vyandige aanslag vereis 'n heeltemal ander strategie. Elke dag word ons wêreld ingeneem deur dinge wat ons reken toevallige gebeure is. Paartjies skei, daarom ontwikkel ons huweliksberading; kerke dreig om te skeur, daarom stel ons bemiddelaars aan om met konflikhantering te help; Christene sukkel met depressie en selfmoordgedagtes, daarom stop ons hulle die nuutste medikasie in. Verstaan my mooi, ek is nie teen sulke programme gekant nie, maar wat as al hierdie dinge meer as toevallige gebeure is en ons deur die vyand aangeval word? In die Skrif ontdek ons daar is 'n onsigbare wêreld wat in 'n oorlog gewikkel is. Paulus skryf: 'Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen... elke bose gees in die lug.' Jy leef in die spervuur van hierdie geestelike oorlog... die vyand is vasberade om alles en almal wat vir jou belangrik is, te vernietig. En as jy dink Paulus oordryf, is dit tot jou eie nadeel." Martin Lloyd-Jones het gesê: "As jy nie besef dat jy in 'n stryd gewikkel is nie, beteken dit jy is hopeloos oorwin en jy weet dit nie eers nie. Jy moet bewus wees van wat aan die gang is en bereid wees om te baklei." Sielekos: Rom 9:17 - 11:36; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27 Geestelike oorlogvoering (Deel 3) Dis belangrik om te weet wanneer jy aangeval word - en wanneer nie. Een skrywer sê: "Daar is 'n geneigdheid onder Christene om enigiets onaangenaams in hul lewens as geestelike oorlogvoering te sien, eerder as om te erken dat hulle besig is om te maai wat hulle gesaai het. As jy jou rol as die geestelike opvoeder van jou kinders byvoorbeeld afgeskeep het, kan die Here toelaat dat hulle in 'n sondige leefstyl beland. 'Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is.' God se dissipline sal jou nie help as jy dit afmaak as satan se toedoen nie. As jy verkeerd verstaan, mag jy dalk die Here blameer omdat Hy nie jou gebede beantwoord het nie of jou nie beskerm het nie, en intussen is Hy besig om jou oor gevaar te waarsku." "... julle [is] 'n kort tydjie bedroef gemaak... deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word." (1 Pet 1:6-7 NV). 'n Ystersmid met 'n stuk metaal op sy aambeeld het 'n idee van wat hy wil hê. Maar dit beteken hy moet die ou metaal smelt, oorgiet, letsels verwyder, krake regmaak, gate opvul en onsuiwerhede skoonmaak totdat iets wat nutteloos was waardevol word. Max Lucado sê: "'n Instrument is net nuttig as dit die regte vorm het... 'n Goeie ystersmid hou sy gereedskap in 'n goeie toestand... En God ook. As Hy jou op Sy aambeeld sit, moet jy bly wees Hy dink jy is die moeite werd om aan te skaaf." Sielekos: Rom 12-14; Joh 11:1-16; Ps 4; Spr 30:1-4 |
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|